+27 (0) 28 482 1618

 

Op ‘n pragtige lengtedag in November is Josua en Adele se grootste droom bewaarheid deur met ‘n sprokiestroue ewige trou aan mekaar te beloof.

Die dag was absoluut perfek. Die bewys hiervan was ‘n bruid wat op die trappies van Black Oystercatcher sit en vir die laaste gaste waai.

Die weer het heeldag saamgespeel en die dag afgesluit met ‘n prentjiemooi sonsondergang. Die bruid het mooier as mooi gelyk en het asems weggeslaan. Die troue het die paartjie se menswees gewys met ongelooflike detail aan die dag. Van hulle name op die waterbotteltjies, hulle voorletters op die dansvloer, lekker koel cocktail “slush puppies” vir pre-drinks, ‘n draairoomysmasjien met verskillende souse en sprinkels vir poeding en “coffee-in-a-cone” vir na die tyd, was maar net ‘n paar van die bruidspaar se spesiale “touches” aan die dag. Die saal was getooi met die perfekte hoeveelheid swart, roosgoud en eilandgroen loof met baie kerse, liggies en so bietjie ‘bling’. Dit het die troue soos die sprokie laat voel wat dit was.

 

 

Salmon Becker en sy span by Black Oystercatcher was eenvoudig ongelooflik. Van die saal se opmaak tot die troukoek wat uit die dak hang het moeiteloos gebeur. Salmon verrig wonderwerke en het soveel bygedra tot die hele ervaring. Hy het selfs help reël dat die bruidspaar by Black Oystercatcher se vlei kon gaan foto’s waar daar selfs soms ‘n seekoei in die agtergrond kan wees. Niks is eenvoudig te veel om vir hom te vra nie. Die aand het glad verloop en as daar probleme was het Salmon en sy span dit hanteer sonder dat enige van die gaste of bruid dit geweet het.

Wat die aand net nog lekkerder gemaak het was die heerlike kos wat Sandra voorberrei het. Die dekadente Canapès was varsgebake plaasbroodjies met gesnipperde biltong, spanspekballe toegedraai in swartwoudham met mintblaartjies, bruchetta met geroosterde biefstuk en uiemarmalade, tempura garnaalstokkies met cilantro maynaise, Caprese slaaistokkies en gerookte forel met Crème Fraiche roulade. Die voorgereg was ongelooflike pangebraaide tuna met gepekelde beet, gemmer en avokado aioli met sesame soyasous. Die hoofgereg was die sappigste lamskenkel in rooiwyn met gekarameliseerde uie, bedien met geroosterde babawortels en groenboontjies op kapokaartappels. Die kos was pragtig voorgesit, heerlik en die porsies was ruim.

Daar is tot laat in die aand gedans, gekuier en baie gelag. Dis ‘n troue waaroor lank gesels gaan word omdat als net so mooi en lekker was. Die bruidspaar het verseker die troue meer geniet as enige van die gaste en dit is hoe ‘n troue veronderstel is om te wees.

 

Décor: The Ivy League – Floral and Décor Design

Cake: Table Café

Photographer: Koringkriek Photography

Catering & Venue: Black Oystercatcher Wines

Pin It on Pinterest

Share This
X